Anonymously Sent
February 21, 2022Unknown
February 21, 2022Ons dogtertjie, Deannei von Backström, is op 03 November 2005 gebore. In Maart 2010 het sy pampoentjies gehad, dit het meer die linkerkant van haar gesiggie aangetas. In November 2010 het ek agtergekom dat daar iets fout is met haar gehoor nadat sy by my op die bed gelê het. Ek het haar geroep en geroep, maar daar was geen reaksie by haar gewees nie. Nadat ek my trane afgevee het, het ek vir haar gesê om voor my te kom sit – ek het eerste haar regteroor toe gedruk en vir haar gevra om alles te herhaal wat sy hoor. Met haar regteroor toegedruk, kon sy glad nie herhaal wat ek vir haar gesê het nie. Maar sy het wel my lippe gelees. Ons het onmiddelik vir haar ‘n afspraak by Yolande gemaak en na ‘n hele reeks toetse het ons die nuus gekry dat sy bykans doof is in haar linkeroor, maar wel gehoor het in haar regteroor. Sy sou nou ‘n gehoor apparaat moes begin dra in die regteroor. Yolande het ook aan ons genoem dat sy ‘n FM systeem sal moet bykry sodra sy Graad 1 toe gaan sodat sy nie agterraak met haar skoolwerk nie. My hele lewe het net daar tot stilstand gekom. Ek kon my trane nie keer nie, my liewe dierbare blondekop kind is doof. Yolande het van haar lessenaar af opgestaan en my kom troos. Hierdie wild vreemde mens het haar arms om my gesit en my getroos. Daardie eerste dag het ek haar werklike omgee en mede-menslikheid vir haar pasiente ervaar en vandag ses maande later, praat sy my nogsteeds moed in elke keer wanneer ons haar sien. Daar is nie baie wat hulle kan doen vir Deannei nie, sy dra nou ‘n gehoor apparaat in haar regteroor. Deannei was van die eerste oomblik af gaande oor Yolande. Sy het so kalm en mooi met haar gewerk en so mooi die hele proses van toetse vir Deannei verduidelik en vertel wat sy doen. En dit was vir my baie opvallend hoe gemaklik Deannei met Yolande was, maar dit kom van hoe Yolande haar behandel het – sy is opreg en passievol oor haar beroep en pasiënte. Ons veiligheidsnet is teen 1000km per uur onder ons uitgeruk in ‘n kwessie van ‘n paar weke, maar Yolande het aan die einde van ons donker tonnel vir ons gewag en ons deur hierdie hele proses gehelp en gelei. En wat vir my die belangrikste was, sy het na my kind se belange en behoeftes gekyk en gesorg dat sy die regte produk kry vir haar spesifieke probleem. Ek het groot waardering vir dit wat Yolande vir ons gedoen het in ‘n baie klein rukkie, maar my grootste dankie gaan oor hoe menslik sy ons behandel het van dag een af. Dis is vandag vir my ‘n riem onder my hart wanneer ons by haar praktyk verby ry en Deannei aan almal in die motor vertel dat dit “Haar oor tannie se plekkie is”. Ek kan met groot vrymoedigheid haar aanbeveel want sy doen nie net haar werk nie, sy maak seker dat die persoon met die gebrek/e ook na gekyk word. Baie dankie vir alles wat jy gedoen het in die afgelope paar maande, ons waardeer dit ongelooflik baie.