Site icon Yolande van der Westhuizen Audiologists T/A Spectrum Hearing

Yolandé in die pers… (Desember 2016)

yolande van der westhuizen audiology in the press-finesse, hearing test

Wanneer dit by gesondheid kom, staan “goeie gehoor” en ons ore, dikwels agter in die ry. Tog kla mense gereeld oor irritasies en simptome wat eintlik gehoor-verwant is.

Kinders ondervind dikwels spraak-en taal probleme en sosiale en akademiese probleme as gevolg van swak gehoor.

Gehoorverlies is een van die algemeenste gesondheidsprobleme wat een uit tien mense wêreldwyd beïnvloed. Dit kan onder andere veroorsaak word deur blootstelling aan geraas, oor-infeksies, sekere medikasie, meningitis, duitse masels, hoë bloeddruk, diabetes en so meer. Gehoorverlies wat voorkom weens “veroudering” kan so vroeg as op 35 jarige ouderdom reeds begin! (Lankal nie meer die “oumens-kwaal” wat almal dink dit is nie.)

Watter simptome is belangrik om na op te let?
Hoekom gebeur dit dan dikwels dat ander mense agterkom dat n persoon se gehoor agteruitgaan maar daardie persoon self ontken dit?

Daar is ’n paar faktore wat hier kan bydra. Gehoorverlies gebeur gewoonlik so stelselmatig en stadig dat die persoon dit dikwels nie agterkom nie. Alle klanke word ook nie altyd eweveel geaffekteer nie. ‘n Persoon kan byvoorbeeld normale gehoor hê in die laer toonhoogtes, maar n probleem in die hoër toonhoogtes. Gevolglik hoor die persoon sekere klanke normaal en verloor dalk net party fyner klanke waarvan daardie persoon heel moontlik salig onbewus is. Daar is ook natuurlik ‘n faktor van ontkenning wat ‘n rol speel (wat so menslik is).

Oor-infeksies

By jong kinders is oor-infeksie (en die gevolglike opbou van vog in die middel-oor) die mees algemene oorsaak van gehoorverlies. Risiko faktore vir oor-infeksies by kinders, sluit in ‘n familie-geskiedenis met kroniese of herhaaldelike oor-infeksies, kinders in dagsorg, kinders wat blootgestel word aan sigaret rook, en kinders wat gebottel-voed is. Dikwels is moeders ook nie bewus daarvan, dat hul nie sommer net vir kleinding met ‘n bottel, in die bed kan sit nie. Die anatomie van babas se ore is anders as die van kinders en volwassenes. Melk kan met verkeerde posisionering direk vanaf die keel na die middel-oor toe beweeg, wat oorinfeksies tot gevolg kan hê. Baba moet dus liefs teen 45 grade geposisioneer word tydens voedingsessies om gehoor-infeksies en gehoorverliese te voorkom. Ouers is ook dikwels onbewus van die teenwoordigheid van middeloor-infeksie of vog wat opbou, omdat dit nie altyd met koors gepaardgaan nie en kinders dikwels geen simptome toon nie. Dit kan egter n enorme effek hê op spraak-en taalontwikkeling en kan ook lei tot ouditiewe prosesserings-probleme.

U mag dalk wonder wat u te doen staan indien ‘n gehoorverlies by u, of u geliefdes vermoed word. Onthou dat geen kind te jonk is om getoets te word nie (babas van so jonk as 24 uur oud kan reeds getoets word), en indien u spesifiek oor u kind bekommerd is, raadpleeg ‘n oudioloog wat ondervinding het met kinders (sien besonderhede onderaan die artikel). Tydens u afspraak sal die oudioloog u uitvra oor u basiese mediese geskiedenis. Dan sal die gehoor-evaluasie begin. Verskeie toetse sal uitgevoer word, om te bepaal hoe elke deel van die oor afsonderlik funksioneer, asook die oor as geheel. Die toets-protokol word altyd aangepas by die ouderdom en behoeftes van die pasiënt.

Wat sal u wys word uit hierdie toetse?

Die oudioloog sal kan bevestig of daar wel n gehoorverlies teenwoordig is. Indien wel, sal sy/hy die graad van gehoorverlies kan aandui, asook moontlike oorsake identifiseer. Die oudioloog sal  kan sê of dit permanente skade is en of dit mootlik deur medikasie of n operasie reggestel kan word. Indien dit  behandelbaar is, sal jou oudioloog jou na n Oor-Neus en Keel Spesialis verwys wat op hierdie gebied spesialiseer.

Indien dit ‘n permanente gehoorverlies is, word gehoorapparate gewoonlik voorgestel. Gehoorapparate is ontwerp om die nodige klanke harder te maak. Gehoorapparate is deesdae klein, gemaklik en onopsigtelik – gelukkig nie meer die piesang agter die oor nie.

Om op een dag alle klank terug te kry wat jy oor n kwessie van jare verloor het,  kan nogal n aanpassing wees, maar met jou oudioloog se hulp kan apparate gemaklik ingestel word. Dit mag nodig wees om vir opvolg-afsprake te gaan vir fynere instellings vir die gehoorapparate. Daarom is dit belangrik dat jy ‘n goeie vertrouensverhoudig met jou oudioloog het. Die oudioloog is ‘n baie belangrike rolspeler in jou pad na beter gehoor en sukses met die dra van gehoorapparate.  Wees maar versigtig vir apparate wat sommer so oor die toonbank verkoop word.

Ons is elkeen met slegs een stel ore geskape. Vermy geraas-situasies wat suising of tinnitus kan veroorsaak, of jou ore laat pyn. Indien jy jouself in so situasie bevind, poog om jouself van die klankbron te verwyder (al is jy soos ek, dikwels ongewild), of maak gebruik van gehoorbeskerming! Moet ook nie n gehoorverlies te lank los nie – agteruitgang van die senuwee en ouditiewe korteks in die brein is onomkeerbaar en kan later tot gevolg hê dat selfs n gehoorapparaat nie genoegsaam kan help nie!  Voorsorg is maar altyd beter as nasorg.

Vind ‘n oudioloog naby jou by die volgende skakel: www.audiologysa.co.za of kontak Cornelle Naude (Adminitratiewe Dame) by 0827275977 of admin@audiologysa.co.za

Elisabeth Lourens (Spraakterapeut en Oudioloog) & Yolandé vd Westhuizen (Oudioloog)

Oorspronklike artikel by hierdie skakel: https://www.voelgoed.co.za/nuwejy/gehoor-gesondheid

 

Exit mobile version